HartSake

 

Met verlies kan ons een oomblik normaal voel en dan net die volgende oomblik of daar 'n vreemdeling in ons wese is.

Die verlies wat dood bring, ruk ons tot in ons diepste wese. Dan is die verlede vir ewig verby en daar is geen manier hoe dit herstel kan word nie. By ander gevalle van verlies, kan daar tog in 'n mate herstel kom al beteken dit baie hartseer en opoffering. Wat ons met verlies ervaar is dat ons wreed uit die normale gang van die lewe geruk is en voor 'n totaal onbekende situasie staan.  Dit is dan wanneer ons so baie keer onkant betrap word met dit wat in ons gemoed aangaan.

Dan word ons bewus van gevoelens soos twyfel, verwarring, hopeloosheid, geweldige hartseer, angs, woede, selfverwyt, skuldgevoelens, eensaamheid en ook ongevoeligheid. Dit kan gebeur dat ons soms breinloos voel en ons merk baie gedragsveranderinge op. 

Gewoonlik probeer ons as mens ons gevoelens onderdruk en spreek selfs die woorde: "die lewe gaan aan - ek kan nie nou hierby stilstaan nie" Dit is 'n baie groot fout. Emosies moet erken en hanteer word. As dit doelbewus en met medikasie onderdruk word, of selfs onbewustelik, spring dit net weer op 'n latere stadium uit of begin jou fisiese gesondheid benadeel.

Die vraag is egter: "Wat maak ek met hierdie emosies". Die eerste is om goed te wees vir jouself - genoeg voedsame kos in te neem en genoeg te rus. Toon begrip vir jouself net soos wat jy al so baiekeer in die verlede vir ander getoon het. Tweedens beveel ek aan dat jy 'n joernaal aanskaf om in te skryf. Probeer ten minste eenkeer per dag 'n tydjie afsonder en gaan sit en skryf dit neer wat in jou hart aangaan. Soos jy skryf sal jy agterkom van emosies wat na die oppervlak beweeg. Skryf hierdie emosies neer en ook wat dit na vore bring. Dit is belangrik om jou denke te ondersoek en waarmee jy deur die dag gaan. 

Ek beveel regtig aan dat jy deur jou emosies werk saam met 'n berader of sielkundige. Dit kan jou help om perspektief te kry op jou verlies. Die belangrikste is dat jy self oortuig is om vir terapie te gaan. Onthou elke persoon is uniek asook die verlies. Ons kan ons nooit met ander vergelyk nie.

Dit is so belangrik om uiting te gee aan ons emosies - deur te praat daaroor, te skryf daaroor of dit op 'n kreatiewe manier uit te druk.  Jy  kan baie baat deur 'n berader, wat kreatiwiteit  as hulpmiddel gebruik, te gaan sien. 

Die kleurkaart wat ek voorheen gegee het, kan  baie help met die identifisering en hantering van jou emosies. 

"Unexpressed emotions will never die. They are buried alive and will come forth later in uglier ways" - Sigmund Freud

Lees in my boeke hoe belangrike rol speel die erkenning van emosies na 'n traumatiese gebeurtenis.

BOEKE wat kan help met jou reis deur pyn, verdwaaldheid en oorweldigende emosies:

.....want jou Maker is jou man.

Kreatiewe Tegnieke vir die hantering van Verlies.

 

Baie sterkte in jou verwerking van trauma en mag jy die proses gebruik om te groei as mens. Volgende keer gesels onder verder oor hierdie reis en gee ek weer 'n paar kreatiewe opdragte. Wees geseënd, liewe afvlerk-vrou.

 

 

skoenlapper Klein