HartSake

Soos ek alreeds genoem het, volg daar fases na die trauma van verlies. Gedurende hierdie fases word baie emosies  ervaar - baie intens! Afgesien van al die normale verantwoordelikhede van elke dag, het daar so baie nuwe eise bygekom.

Jy bevind jou nou in 'n proses wat onbekend is en wat baie veranderinge gaan meebring. Daar is drie belangrike gebiede waar jy hierdie proses gaan ervaar: psigologies (deur jou gevoelens en denke); sosiaal (deur jou gedrag met ander) en fisies (deur jou gesondheid en liggaamlike simptome).

Na die aanvanklike skokfase, weet jy diep in jou hart dat jy iewers moet begin om hierdie ontsettende smart te hanteer. Waar begin jy?

Jy voel verdwaald en so asof jy tussen 'n hoop losgetorringde wol staan en nou moet jy iewers 'n beginpunt soek. As jy begin "oprol" en dink dat jy begin vorder, kom jy agter dat dit "vashaak" en jy moet dan met moeitevolle inspanning weer 'n ander punt begin soek. So is dit 'n oneindige en energie-rowende proses van val en opstaan.

Jy kan probeer hulp kry van mense; jy kan probeer sterk wees; jy kan jou situasie ontken (soos bespreek in Ontkennings Fase) en allerhande hulpmiddels probeer. Dit is egter die heel beste dat jy jou eie pad begin stap. Die Skepper van die heelal en jou Maker steek Sy hand uit. Reik daarna en hou dit styf vas deur hierdie proses, al verstaan jy niks nie en al het jy baie vrae in jou hart. Onthou dat daar niemand is wat die antwoorde ken nie; net die alwetende, alomteenwoordige Vader.

Al voel jy op hierdie stadium kwaad vir Hom; al worstel jy met Hom; al glo jy nie meer in Hom nie; al het jy nog nooit in Hom geglo nie; al voel jy Hy is die oorsaak van jou seer - Hy is die begin van jou "heelword" proses en dis waar jy begin.

  • Ek gee vir jou twee kreatiewe maniere om hierdie emosies wat jy nou ervaar, te erken en uit te druk. Raak stil en sit gemaklik  met jou oë toe. Haal rustig en stadig asem en asem in en uit. Luister na jou asemhaling en stel jou voor dat jou asemhaling jou hele wese toevou. Dink daaraan dat jy "gebad" word in vrede en liefde. Vergelyk jou inaseming met kalmte en vrede en jou uitaseming met stilte, troos en liefde. Sien in jou gedagtes hoe jy rustig raak in hierdie atmosfeer en dat daat 'n almagtige Vader is wat jou vashou, vertroos en jou toemaak met liefde en vrede. 

Jy kan nou teken of skryf wat jy  in hierdie tydjie ervaar het.

  • Neem 'n A4 of A3 grootte papier. Teken 'n groot traandruppel die hele bladsy vol. Skryf binne-in die traandruppel neer wat die seer in jou hart is. Gee oor aan jou emosies en raak bewus van die verligting wat trane bring.

"U het my ellendes raakgesien. U het my trane opgevang. U het dit opgeskryf in U boek." -Ps. 56:9 (NLV)

"Don't be ashamed to weep; 'tis right to grieve. Tears are only water, and flowers, trees and fruit cannot grow without water. But there must be sunlight also. A wounded heart will heal in time, and when it does, the memory and love of our lost ones is sealed inside to comfort us."

Onthou om gereeld in jou joernaal te skryf. Skryf hoe jy in jou hart voel. 

Volgende keer gesels ons verder oor verlies en hoe om dit te hanteer. 

Ek nooi jou weereens uit om te skryf aan my as jy daarna voel en ook om my boeke aan te skaf wat jou sal help om hierdie pyn in jou lewe te hanteer en te verwerk.

Uittreksels uit: "....want jou Maker is jou man" en "Kreatiewe Tegnieke vir die hantering van Verlies"

 

skoenlapper Klein