HartSake

Hoe dikwels het jy die afgelope tyd al hierdie woorde gesê: "Ek voel nie myself nie!" Ons as vrou ervaar emosies veel dieper as mans. Ons kom dadelik agter as ons emosies versteur is. Die trauma wat met jou gebeur het, dwing jou eintlik om tot stilstand te kom. Die hartseer en realiteit van die hedendaagse mens, is dat ons onsself eintlik al lankal verloor het in die gejaag na wind. Dit is asof daar nie tyd is om stil te staan en net weer jouself as mens te ontdek nie. Met hierdie pyn in jou hart, kom jy agter dat die lewe nie kan aangaan soos altyd nie. Na die belewenis van hierdie traumatiese gebeure en die aanvanklike skokfase, voel jy liggaamlik uitgeput. Jou emosies is in 'n warboel en jou liggaam kan nie byhou nie. Jou hele menswees skreeu na herstel van hierdie proses. Wees gerus jy is nie abnormaal wanneer jy "anders" voel nie. Dit is wetenskaplik bewys dat trauma ons hele senustelsel in chaos dompel.

Daar is 'n gedeelte in die brein, bekend as die amigdala, wat ons emosies en gevoelens hanteer. Gedurende 'n traumatiese gebeurtenis is hierdie deel van die brein hipersensitief. Dan word ons denkprosesse ook so te sê gevries.  Sekere tye mag dit vir jou voel of jou lewe deur hierdie deurmekaar denke beheer word en dit gebeur ook dan so. Jou geheue word ook geaffekteer as gevolg van die fontale korteks se vermoë wat verminder. Trauma is 'n groot wond wat die daaglikse aanpassings van ons lewe oorweldig. Daar gebeur soveel in jou liggaam, gees en siel gedurende hierdie tydperk en dit kan nie altyd met die blote oog gesien word nie. Daar is dan ook baie mense wat nie eintlik begrip het van die uitwerking van trauma op ons wese nie. Wat baie nodig is om te onthou, is dat hierdie geweldige gebeure in jou lewe nie net 'n verbygaande proses is nie. Die impak op jou menswees is groot en dit moet hanteer en deurgewerk word.

Daar word geweldig baie energie gebruik gedurende die verwerking van trauma en gewoonlik kan 'n persoon agterkom dat daar gewigsverlies is. Daarom is dit so noodsaaklik om goed na jouself om te sien. Ek verstaan as jy nie juis omgee oor jouself nie omdat jou hele menswees oorheers word deur hierdie smart. Moenie jouself in hierdie proses verwaarloos nie - innerlik en uiterlik. Dis belangrik om genoeg te rus en gesonde kos te eet sodat jou liggaam kan terugveg teen hierdie aftakeling wat belewenis van die trauma meebring. Onthou hoeveel keer in die verlede jy begrip gehad het vir ander wat deur moeilike omstandighede gaan. Toon nou vir jouself ook dieselfde begrip en wees goed vir jouself. Besef dat jy besig is om deur 'n proses te gaan - iets waaroor jy geen kennis of ervaring het nie. Ek weet dit voel of dit nimmereindigend is - weet net - dit sal weer beter gaan. Dit is 'n lang pad om te stap en daarom konsentreer net een dag op 'n slag. Miskien is jy nog daar wat jy net bid om deur een uur op 'n dag te kom. Hou moed liewe reisiger, hou maar net aan- daar is hoop!

Onthou altyd - jy is nie alleen op hierdie pad nie. Daar is mede-reisigers, ook jou ander geliefdes - maar bo alles is daar 'n Vader wat Sy hand uitsteek na jou. Hy wil saam met jou reis - gee Hom die kans om dit te doen. Jou teleurstelling in mense sal baie minder wees as jy die Here bo mense stel en besef dat ons as mense maar vol foute en tekortkominge is. Alle ander hulp bring dalk kort tye van troos, maar die Here bring genesing. As ons die Here ignoreer in ons trauma, rek dit net die heelword proses uit en kom daar nooit volkome innerlike genesing nie.

"We shall steer safely through every storm, so long as our heart is right, our intention fervent, our courage steadfast, and our trust fixed on God." - St. Francis de Sales

Soos gewoonlik gee ek vir jou 'n paar praktiese kreatiewe tegnieke om jou emosies te erken, weer te gee en te verstaan. 

  • Neem tydskrifte en soek na prente en woorde wat jou gevoelens (emosies) weergee. Knip uit en plak dit op 'n A3 vel papier sodat dit 'n collage vorm. Kyk daarna en gee dit 'n titel. Skryf agterop wat jy sien en ervaar het. Onthou ek het al genoem hoe belangrik dit is om baie te skryf. Jy kan briewe skryf, gedigte, lirieke of enigiets anders waarvan jou gemoed oorloop.
  • Dink aan drie emosies wat vir jou baie moeilik is om te hanteer. Kies drie kleure papier en skryf op elke kleur 'n spesifieke emosie. Neem nou 'n boksie en versier dit mooi aan die buitekant en binnekant. Plaas die verskillende kleure papier binne in. Neem nou jou gunsteling kleur papier en skryf 'n gedig, woorde of teksvers daarop wat jou sal help met die verwerking van hierdie emosies. Jy kan dit ook in die boksie plaas as jy wil. 

Wanneer jy hierdie tegnieke doen, staar jy as't ware jou emosies in die oë. Kies 'n spesiale plekkie wat jy vir jou inrig met allerhande kreatiewe benodigdhede. Jy kan ook 'n lekkerruik kers daar aansteek en sagte musiek speel, indien jy dit verkies. Plaas ook ander belangrike aandenkings daar. Dit is jou plekkie waar jy jou kan afsonder - so rig dit in soos jy verkies en mee gemaklik voel. Onthou 'n joernaal om in te skryf. Jou Bybel behoort ook daar 'n spesiale plekkie te kry. Solank jy veilig in jou hart by daardie plekkie voel. 

Ons gesels volgende keer verder oor die trauma van verlies en hoe om deur dit te groei om heel te word en 'n lewe van betekenis te kan leef. Mag jy 'n geseënde week geniet.

Baie van die inligting en ook die tegnieke kom voor in my boeke : ".....want jou Maker is jou man" en "Kreatiewe Tegnieke vir die hantering van Verlies".  Die boeke word in 'n stel van 3 boeke teen R200 plus posgeld aangebied en kan bestel word by: joawasserman@gmail.com.

skoenlapper Klein