HartSake

As ek so terug dink aan die tye toe ons in Suid-Afrika kon leef sonder heinings of mure om ons wonings, kan ek amper nie glo daar was so 'n tyd nie. Vandag as jy deur enige woongebied ry, is dit net heinings en mure en is die kanse maar baie min om nog 'n erf te sien wat nie omhein is nie. Sou julle dink die mure help in die tye waarin ons vandag leef? Ons voel dalk 'n klein bietjie veiliger, maar nog steeds neem kriminele aktiwiteite toe. Ons kan redeneer dat dit nie so maklik is vir die krimineel om oor die muur te klim nie. Tog weet ons hoe geslepe hierdie persoon/persone is.

Ek wil verseker nie oor misdaad praat en alles wat daarmee saamgaan nie. Ek wil net eintlik 'n vergelyking maak. Wanneer ons deur pyn en trauma werk is ons baie geneig om 'n muur om ons te bou en ons te probeer beskerm teen verdere seerkry. Ons denke en gevoelens redeneer dat ons veiliger sal voel. Boonop dink ons dat ons nou nie so maklik sal seerkry nie. Die eintlike emosie wat agter hierdie denke sit, is woede. Dit is die tweede fase wat ons in die rouproses vind en wat ons definitief moet hanteer.

Die meeste sal glad nie hiermee saamstem nie en ook dan dink dat hierdie fase nie in jou rouproses is of sal wees nie. Daar is menige navorsing gedoen wat bewys dat almal wat trauma beleef het hierdie emosie gaan ervaar, in 'n mindere of meerdere mate. Ons weet uit ervaring dat om jou geliefde aan die dood af te staan een van die mees traumatiese gebeure is.

Die feit dat ons dalk 'n baie minsame en geduldige mens is, beteken nie dat ons nie hierdie emosie gaan ervaar nie. Die mate van woede asook die tydperk van hierdie fase verskil weereens van persoon tot persoon en hang ook af van die omstandighede. Hierdie emosie is baie belangrik in die heelwordproses.

Ek wil net verduidelik dat die emosie woede nie geweld beteken nie, alhoewel dit kan lei tot geweld. Die gevaar bestaan dat baie persone hierdie emosie onderdruk en daardie muur bou. Ons kom dit baie agter wanneer persone vir enige iets 'n uitbarsting beleef en oor die kleinste dingetjie 'n irritasie ontwikkel. Die grootste nuus is dat daar uitkoms is en dat 'n persoon hierdie woede kan verwerk en daarom nie nodig het om jouself toe te bou nie.

Die rede hoekom die bou van mure om jou nie help nie, sien ons ook in die realiteit. Alle mure maak een of ander tyd 'n krakie of ander probleme. So is dit ook met hierdie emosionele muur. Daar kom klein krakies soos wat die bewussyn hierdie onderbewussyn probleem wil uitsorteer. Die heel beste is om nie jouself aan uitgerekte pyn en hartseer bloot te stel nie en liewer die woede emosies te hanteer en verwerk.

Onthou dat woede teenoor verskeie persone in jou lewe kan wees - jou man wat oorlede is, jou vriende, die dokter/medici, die motorbestuurder/moordenaar,  jou kinders, jou familie, jouself en selfs teenoor God. Jy mag rebels teenoor God voel en Hom kwalik neem vir jou pyn. Jy kan gevoelens van jaloesie ervaar teenoor ander getroude paartjies. Of jy kan gevoelens van vrees ervaar. Al hierdie soortgelyke gevoelens eindig gewoonlik in woede op.

C.S. Lewis "It takes courage to live through suffering; and it takes honesty to observe it".

Gewoonlik volg emosies soos skulgevoelens ook na die emosie van woede. Dan is dit nodig om by vergifnis uit te kom.

Ps 34:19 "Die Here is naby die wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is".

Ek wil net weer beklemtoon jy gaan nooit deur hierdie pyn en seer kan kom as jy dit alleen wil doen nie. Steek jou hand uit en plaas dit in die hand van die Almagtige Here. Hy is die enigste een wat jou hart ken en verstaan. Stap hierdie pad saam met Hom.

Weereens is dit belangrik dat jy hierdie emosie van "woede" erken en bereid is om deur dit te werk. Onthou dat ontkenning net die proses langer uitrek.

Soos gewoonlik gee ek vir jou kreatiewe maniere om ook hierdie emosie van woede te kan hanteer en verwerk.

  1. Trek lyne- dik lyne, dun lyne, kort lyne, lang lyne, skewe lyne, reguit lyne, ens. Gebruik 'n dik en dun merkpen. Kyk of jy verstaan wat jou emosies vir jou vertel en as jy wil, vorm 'n skets uit hierdie lyne.
  2. Soek prente en woorde wat jou herinner aan dit wat die "woede" emosie by jou wek. Soek ook prente en woorde wat die teenoorgestelde van woede by jou wek. Neem nou 'n A2-grootte papier en vou dit in die helfte. Maak 'n collage van "woede" op die een kant en die teenoorgestelde emosie soos "kalmte", "vrede" of wat jy ook al dink, op die ander kant. Skryf watter een vir jou die meeste beteken en wat jy graag in jou binneste wil ervaar, op die agterkant neer en skryf 'n paar sinne, 'n gedig of 'n teksvers daaroor.
  3. Ontwerp 'n poskaart vir iemand teenoor wie jy woede ervaar. Skryf 'n boodskap daarop. Skeur dit op wanneer jy gereed is. Jy kan ook 'n brief aan so persoon/persone skryf en presies verwoord wat in jou hart opkom. Skeur dit op wanneer jy gereed is.

Liewe mede-reisiger, probeer om jou nie toe te bou en die leuen glo dat jy nou veilig is en nie meer gaan seerkry nie. Begin deur jou emosies te erken en uiteindelik sal jy by genesing en groei uitkom. Hou net aan stap- die pad is so baie kere vol steiltes en slaggate, maar moenie tou opgooi nie. Die eindpunt gaan kom en jy sal uiteindelik vry wees van al die seer- dit beteken nie jy gaan nooit weer verlang of seer in jou hart ervaar nie, maar dit beteken jy kan dit hanteer....

Geniet die begin van lente - kyk om jou en sien die groei en nuwe lewe en besef dat jou lewe ook weer nuut kan word - anders ja, maar weer vol betekenis.

Vrede vir jou.

Joa

Onthou dat al die uittreksels uit my boeke kom asook die kreatiewe tegnieke. My boeke ".....want jou Maker is jou man" en "Kreatiewe Tegnieke vir die Hantering van Verlies" -boek 1 en 2, kan direk van my af bestel word by :

joawasserman@gmail.com.

 

skoenlapper Klein