HartSake

Soms wens jy daar is net iemand wat verstaan - iemand wat jou hart kan sien! Dit is werklik net die Here wat die mens se diepste wese ken. Hy sien wat ons nog nie eers kan voel in ons wese nie. Die seer van herinneringe is nie vir Hom onbekend nie. Jou hele lewe het Hy gedagboek en weet Hy van alles wat jy met jou geliefde gedeel het, selfs elke gedagte en emosie.

Liewe vrou, dit is so dat herinneringe so seer maak en die onthou van spesiale tye laat jou soms in trane uitbars. Probeer om nie hierdie herinneringe te onderdruk nie, maar hanteer dit soos egte pêrels; soos wat jy met kosbare pêrels sal maak: haal dit versigtig uit, bewonder dit, geniet dit, streel dit teen jou wang, poleer dit en pak dit weg in jou hart. Dit is kosbaar en nie eers die wreedheid van die dood of skeiding kan dit van jou af wegneem nie.

Probeer om nie die heeltyd aan die pyn van onthou  vas te hou nie. Let maar op na jou denke en onthou dat daar 'n balans moet wees. Herinneringe is deel van jou menswees en daarom kan jy dit beleef en daaroor lag of huil en selfs ook ander emosies ervaar. Om die verlede te vertroetel is wel deel van die rouproses en daarom nie ongewoon nie, solank jy nie vasgevang bly in hierdie fase nie. Dit beteken nie dat jy nooit mag dink aan hom of verlang na hom nie. Dit beteken om nie vas te klou aan die verlede nie en op 'n tydstip kom waar jy stadig in die realiteit van die hede begin beweeg.

Ek wil vir jou 'n paar wenke gee om toe te pas wanneer jy voel jou hart is swaar van al die seer:

  • Gee jou oor aan jou Skepper - word stil by Hom en weet Hy is dag en nag by jou. 
  • Wandel in die natuur (waar dit veilig is). Bid saam met 'n vriendin. Luister na geestelike musiek.
  • Huil sonder om skaam te voel daaroor. Skryf vir jou geliefde 'n brief. 
  • Wees goed vir jouself. Neem 'n lang bad en luister na musiek wat jou rustig maak. Gaan drink koffie saam met 'n vriendin. Woon 'n spesiale kerkdiens by. 
  • Pak iets kreatief aan. Doen enigiets wat altyd vir jou lekker was.
  • Eet gesond en stap.
  • Stel vas wat in jou gedagtes aangaan en jou self-talk. Probeer dit verander na wat die Here vir jou in Sy Woord leer.

Die verlange na jou geliefde kan jou baie magteloos laat voel. Dit is 'n emosie wat verlies meebring. Die beste is om dit te erken en dit uit te druk. Jy het 'n behoefte aan vertroeteling en liefde. Daarom is dit nodig om goed te wees vir jouself en om tyd af te staan om hierdie gevoelens te verwerk. 

Jy sit met baie liefde in jou hart - toe jou geliefde gesterf het, het hierdie liefde nie opgehou nie. Soos jy deur die rouproses beweeg, begin jy hierdie liefde kanaliseer. Wanneer jy deur die rouproses gewerk het en weer amper as 'n heel mens optree, besef jy dat hierdie liefde werklik 'n geskenk van God is en jy begin om uit te deel wat jy ontvang het. Jy leer om in dankbaarheid teenoor God te leef omdat jy so 'n groot voorreg gehad het om die persoon wat God op jou pad gestuur het, so lief te kon hê. 

Daarom liewe vrou, wees dapper en deel hierdie liefde uit. Daar is so groot tekort aan liefde in die wêreld vandag. Deel liefde uit aan ander en jy sal agterkom dat hierdie liefde in jou hart soos die jare aanstap meer word, nie minder nie.

"Laat liefde jou hart oorheers - deel dit, uit die oormaat wat jy ontvang het. 'n Lewe sonder liefde is geen ware lewe nie."

Ek gee vir jou weereens kreatiewe tegnieke wat jy kan gebruik om jou emosies te verstaan en uit te druk.

  • Teken 'n groot hart op 'n A3 vel papier. Teken enige vorms daarbinne soos vierkante, driehoeke, sirkels, ens. - net soveel soos jy wil. Jy kan ook trane teken, of dit wat jy wil aandui wat in jou hart aangaan. Skryf nou in elke spasie wat jy gemaak het - bv. in elke sirkel - wat jou hart jou vertel. Dink veral aan moontlike maniere om jou seer minder te maak en skryf dit agterop.
  • Gebruik verskillende kleure houtkrale. Ken aan verskillende kleure krale verskillende emosies toe. Ryg die krale in en maak vir jou 'n hangertjie of armband. Plaas elke kleur wat jy gebruik het voor jou en praat met die Here oor hierdie emosie.

Dit is baie moeilik om verlies te verwerk en is 'n lang proses. Wees geduldig met jouself en met ander. As jy jou pyn erken en uiting daaraan gee, gee jy 'n treetjie vorentoe - al voel dit glad nie so nie. Skryf in jou joernaal of gesels met 'n getroue vriendin oor hierdie pyn. Hou net aan op hierdie pad stap! Dit is die enigste manier hoe om seer te hanteer. Onthou weereens - jy is nie alleen nie - jou Skepper is by jou. 

Ons gesels weer volgende keer hoe om verder te stap en te vorder op die pad van verlies. 

As jy meer wil weet oor die pad van verlies en hoe om dit te verwerk, oorweeg om my boeke ".....want jou Maker is jou man" en "Kreatiewe Tegnieke vir die hantering van Verlies" aan te skaf. Bestel dit by: joawasserman@gmail.com. of as jy in Pretoria woon is dit beskikbaar by PNA-Sinoville en Graffiti Boekhandelaars Montana.

skoenlapper Klein