Elkeen van ons weet baie goed wat van ander mense maak ons ongelukkig, kwaad, opgewonde of enige ander emosie. Julle weet wat ek bedoel as ek van so iets praat en ons vrouens is gewoonlik heel sensitief hiervoor. Dis ook baie maklik om in jou hart te voel iemand anders het hierdie emosie by jou veroorsaak. Die feit is ons is die meeste van die tyd te bang om in ons eie harte in te kyk. Wat sal ons daar vind?

Ek is seker elkeen van ons kan ‘n boek skryf oor wat hierdie inperking van die Coronavirus aan ons gedoen het Wie van ons sou kon dink toe 1 Januarie 2020 aanbreek dat ons hele lewe en roetine in ‘n oomblik tot stilstand sal kom? Ons almal het soveel planne gehad vir die nuwe jaar – 2020 – dis so uitsonderlike jaartal en ons het almal hierdie nuwe jaar aangedurf met hoop in ons harte. Sommige van ons het uitgesien na ‘n jaar van dalk ‘n nuwe werk, moontlik ‘n nuwe huis, ‘n vakansie, ‘n kuier by hartsmense of sommer net hoop op ‘n heel hart. Toe gebeur die ondenkbare – Suid-Afrika en amper die hele wêreld word in ‘n staat van inperking geplaas. Skielik word ons lewe soos ons dit ken – die onbekende – ons bevind ons in ‘n situasie wat ons glad nie ken of voorbereid op was nie. Klink dit nie vir jou bekend nie – kan jy onthou dat met die afsterwe van jou geliefde jy ook nie daarop voorbereid was nie – al het hy moontlik aan ‘n ongeneeslike siekte gely of was hy ernstig siek. Die onbekende het vir jou gewag.

Die onsekerheid wat in ons land aan die gang is, het ons fokus geskuif. Ons almal bespiegel oor wanneer gaan dit verander. Intussen spoed die dae voort en kyk hoe lank al is ons in hierdie inperking. Baie van ons hoop en drome vir 2020 bestaan nie meer nie. Ons moes so baie aanpassings maak. Ons wat drukkie-mense is kry ekstra swaar, alhoewel ek dink elke mens is so geskape – om soms net vasgehou te word of ‘n drukkie te kry.

Liewe vriendin, baie gevoelens wat individue nou deurgaan, is nie heeltemal onbekend aan jou – jy wat jou geliefde aan die dood moes afstaan, ken die gevoel van onsekerheid, van eensaamheid, van verandering, van hopeloosheid, van angs.

Daarom kan ek net weer noem dit is die beste om net een dag op ‘n slag te leef, een dag op ‘n slag die lewe voluit te geniet. So kan jy ook een tree op ‘n slag vorentoe beweeg. Vorentoe om heel te word, om te groei as mens, om oor te begin. Soms kan daar twyfel in jou hart wees of jy weer ten volle mens sal wees, soms kan jy bang wees vir die onsekerheid van elke nuwe dag, soms kan jy dalk voel jy wil net in jou spasie bly waar jy veilig voel as om vorentoe te beweeg. Net soos ons almal hoop dinge gaan vinnig terugkeer na normaal in Suid-Afrika weet ons dit sal nie weer presies wees soos wat dit was nie. Maak jou hart dus oop en weet jy gaan ook nooit weer dieselfde mens wees as voor jou geliefde gesterf het nie. Die hoop in jou hart is die belangrikste – dit is ‘n klein vlammetjie wat nie uitgeblus kan word nie. Hierdie vlam brand sterker as jy jou lewenspad saam met die Here stap – as jy al jou hoop op Hom plaas en Hom vertrou vir jou toekoms.

Maak jou hart oop en kyk na binne. Wat ervaar jy daar? Vrees of rustigheid? Moedeloosheid of vrede? Hopeloosheid of hoop? Onsekerheid of sekerheid in die Here? Kyk binne jou hart of jy tevrede is met die mens wat jy daar sien. Hoe kan jy verander? Hoe kan jy nuut word? Hoe kan jy jou doel op aarde uitleef? Hoe kan jy die Here se liefde uitleef?

Begin om te skryf oor wie jy is – hoe jy jouself sien en hoe jy dink ander jou sien. Jy kan selfs ‘n goeie vriendin vra om eerlik te wees en jou goeie en swak eienskappe neer te skryf. Vergelyk dit met wat jy neergeskryf het. As jy iets in jou mondering sien wat eintlik nie so goed is nie, bid daaroor en vra die Here om jou te help om te verander. Stel vir jou ‘n lys op van hoe jy daaraan kan werk en begin dink hoe jy dit stap vir stap gaan doen met die hulp van die Here. Onthou dit wat jy dink dit word jy en dit is jy. In Spreuke 4:23 lees ons dit so duidelik. Ons probeer altyd so hard om ons omstandighede te verander of om die mense om ons te verander. Maar wat van onsself? Soms as ons verander dan verander dinge en mense om ons. Onthou trauma bring ons by ‘n punt waar ons in werklikheid ons oë na binne draai en onsself ondersoek.

Die rouproses is nie net ‘n tyd van herstel nie maar is ‘n tyd van ontdekking. Dit is ‘n tyd waar jy nuwe aanpassings maak en ook tot die realiteit kom dat jou geliefde nou nie meer deel van jou aardse bestaan is nie. Dis nie ‘n proses wat oornag plaasvind nie. Soos wat jy jou losmaak en besef jou geliefde is veilig by die Vader, sal jy ook agterkom Hy sal jou nooit alleen laat nie en is besig om jou nuut te maak – al is dit baie pynlik. Lees hierdie mooi aanhaling van C.S. Lewis en maak dit jou eie:

“GIVE UP YOURSELF, AND YOU WILL FIND YOUR REAL SELF. LOSE YOUR LIFE AND YOU WILL SAVE IT. SUBMIT TO DEATH – DEATH OF YOUR AMBITIONS AND FAVORITE WISHES EVERY DAY AND DEATH OF YOUR WHOLE BODY; IN THE END SUBMIT WITH EVERY FIBER OF YOUR BEING, AND YOU WILL FIND ETERNAL LIFE. KEEP BACK NOTHING. NOTHING THAT YOU HAVE NOT GIVEN AWAY WILL BE REALLY YOURS. NOTHING IN YOU THAT HAS NOT DIED WILL EVER BE RAISED FROM THE DEAD. LOOK FOR YOURSELF, AND YOU WILL FIND IN THE LONG RUN ONLY HATRED, LONELINESS, DESPAIR, RAGE, RUIN AND DECAY. BUT LOOK FOR CHRIST AND YOU WILL FIND HIM, AND WITH HIM EVERYTHING ELSE THROWN IN.”

So introspeksie beteken nie net om te kyk wie ons is nie maar ook hoe ons kan verander. C.S. Lewis het geweet die beste om die Bybel se raad te volg – om onsself op te gee en Jesus Christus die ereplek in ons lewe te gee. Dit is wanneer ons verander en hoe ons deur trauma kom en ook iets soos die inperking kan hanteer. Liewe vriendin, mag jy ook hierdie groot werklikheid ontdek.

Soos gewoonlik bied ek weer vir jou ‘n kreatiewe oefening aan. Deur iets te doen met ons hande, vind daar ook verandering in ons denke plaas. In my boeke is daar nog baie meer kreatiewe oefeninge.

(a) Neem ‘n vertrek in die huis en begin dit oor ‘n tydperk dekoreer Beplan op papier wat jy wil doen. Gebruik kleur wat jou inspireer, rustig laat voel en jou aan verandering laat dink. Terwyl jy dit doen, dink ook hoe jy besig is om nuut te word.

(b) Dink aan die volgende spreekwoord:

“LIFE IS NOT ABOUT WAITING FOR THE STORM TO PASS, IT IS ABOUT DANCING IN THE RAIN”.

Teken, verf of plak op karton of canvas jou interpretasie hiervan en dink spesifiek aan die nuwe denkwyse wat jy deur die rouproses leer en hoe jy ‘n lewe van betekenis kan leef. Skryf jou probleme neer en hoe jy dit hanteer. Terwyl jy dit doen, dink daaraan hoe jou denke oor hierdie trauma en verlies gaan bepaal hoe jy die lewe vorentoe gaan hanteer.

Mag jou reis mooi wees, vriendin.

Joa

Onthou my boeke is nog beskikbaar teen R200 plus posgeld.

….want jou Maker is jou man. – ‘n Handleiding vir die weduwee PLUS

Kreatiewe Tegnieke vir die Hantering van Verlies (2 boeke)