HartSake

 

Die eerste fase na die trauma van verlies jou kom beroof het van so baie, staan bekend as die skok-/ontkenningsfase.

“Dit is wanneer jy totaal verlore en oorweldig voel, asook gevoelloos met tye. Dit is skok wat hierdie en die daaropvolgende interne fisiologiese reaksie veroorsaak en niks maak sin nie, veral nie die lewe nie. Alles voel soos ‘n droom en jy hoop ook dat dit net ‘n droom is.  Die smart wat jy ervaar is oorweldigend. Vrae maal deur jou kop en jy begin antwoorde soek. In hierdie fase het jy ’n behoefte om alleen te wees, maar is ook terselfdertyd bang daarvoor.”

“HOE ONTSNAP ‘n MENS VAN OPGEKERFDE SMART – WAT DEUR DIE LEWE SE MAALKOLK SNY? WAT BINNE DIE GEES SE SIEL INSNY – WAT DIE HART SE DOOD UITSNY?” – M.Swart (gedig: Hoe Hardloop mens weg van Stukkende oë)

Ek nooi jou uit om te skryf oor jou ervaring. Deur dit met ander te deel, bring troos – vir jouself asook vir die ander persoon. Neem vrymoedigheid om vrae te vra. Indien jy kan, probeer die emosies beskryf wat jy ervaar.

“KREATIEWE WENKE VIR FASE 1

  1. Probeer ’n stil en private plekkie uitsoek waar jy jou vir ‘n rukkie kan afsonder.
  2. Sorg dat jy ’n pen en joernaal of papier het om op te skryf.
  3. Indien jy baie ontsteld is, gee toe aan die emosies wat jy ervaar en begin daaroor skryf. Indien smart jou oorweldig, gee daaraan toe. Trane was die siel skoon.
  4. Raak kalm indien jy kan en kyk in die vertrek rond.Begin om na ses voorwerpe te soek wat rooi of blou in het en fokus vir ‘n rukkie daarop. Dit sal jou help om weer vir ’n oomblikkie in die hede te wees.
  5. Jy kan die heeltyd met die Here praat (hardop of in jou joernaal skryf) en vertel hoe jy in jou hart voel.

Dit is nodig dat jy onthou dat jy ‘n warboel van emosies ervaar en op hierdie stadium verstaan jy nog nie werklik die implikasies van jou verlies nie.

Dit is net belangrik dat jy besef dat dit ’n proses is wat begin het en wat jy gaan deurwerk. Daar is ongelukkig nie omdraaikans nie.”

VOLGENDE KEER GESELS ONS VERDER OOR NOG KREATIEWE MANIERE OM JOU VERLIES TE HANTEER.

Alle uittreksels asook kreatiewe wenke is geneem uit my boeke – “......want jou Maker is jou man” en “Kreatiewe Tegnieke vir die hantering van Verlies”.